NG KERK PHILIPPOLIS
Mylpale in ons gemeentegeskiedenis
22 Oktober 1862 Die Ring van Transgariep vergader in Kaapstad.
Op dié Ringsvergadering word die stigting van die gemeente
Philippolis goedgekeur.
9 Maart 1863
Die eerste kerkraadsvergadering van die NG
Gemeente Philippolis vind onder leiding van ds AA Louw van
Fauresmith plaas. Tydens dié vergadering word ds Colin Fraser as
eerste leraar na Philippolis beroep.
8 Mei 1869 Tot op hede is die eredienste in die ou
bestaande Griekwa-kerkie gehou. Na besinning, besluit die
kerkraad om ‘n doelmatige kerkgebou op te rig op die presiese
plek waar die ou Griekwa-kerkie gestaan het. Die hoeksteen van
die nuwe kerkgebou, in die plek van die ou Griekwakerk word deur
ds Fraser gelê. R Wocke is die boumeester van dié nuwe kerkgebou.
Die preekstoel, wat vandag nog in gebruik is, is deur mnr ET
Schmidt van olienhout gemaak. Dié hout is deur twee ouderlinge
in die berge naby Fauresmith gaan uitsoek. Die orrel en die klok
is deur ‘n ene Mynhartd geïnstalleer. Mej Rörich van Fauresmith
het ‘n sierlike kanselkleed geskenk.
24 Februarie 1871 Die nuwe kerkgebou, wat vir ongeveer £
6000 gebou is, word ingewy. Die gekleurde glasvensters het eers
later gekom. In 1877 het ds Fraser Skotland besoek, en dié glas
gekoop as ‘n geskenk aan die gemeente. Die kerkraad het egter
besluit om al die koste daaraan verbonde aan die leraar terug te
betaal. Mettertyd is sekere veranderinge aan die kerkgebou
aangebring. So bv kon baie van die vensters nie oopmaak nie. Die
hitte van die somermaande het die kerkraad laat besluit om ‘n
skrynwerker aan te stel, sodat minstens nog 8 vensters kon
oopmaak. In 1879 het ds Fraser ook tapyte vir die paadjies in
die kerk bestel.
27 September 1895 Die kerkgebou word te klein, en word
vergroot met die aanbou van die twee syvleuels. Die vergrote
kerkgebou word ingewy, sonder dat daar enige skuld op die
bouwerk uitstaande is. Hierdie keer was die boumeester ‘n ene
Hawkins. Nou het die kerkgebou sitplek aan ‘n 1000 mense verleen,
terwyl daar voorheen net plek vir 600 was. Die kerktoring is met
ongeveer 20 voet verleng om by die nuwe aanbouings te pas.
Tydens die Anglo-Boereoorlog het Engelse soldate die kerk beset,
en is die kerktoring as ‘n uitkyktoring benut. Tydens dié
besetting is die kerkorrel onherstelbaar beskadig.
25 Januarie 1907 ‘n Nuwe kerkorrel wat die beskadigde
kerkorrel na die oorlog moes vervang, word plegtig ingewy. Dié
orrel, ‘n Brinley en Foster van Sheffield, het £950 gekos. PK de
Villiers van Worcester, het met die keuse van die orrel gehelp.
14 Julie 1961 Die NG Kerkraad Philippolis besluit om die
kerkgebou op te knap. Mnr HN le Roux, argitek van Bloemfontein,
se voorlegging, met ‘n koste-implikasie van R 8000, word
goedgekeur. Dié herstelprogram het die volgende voorstelle bevat:
nuwe vloere, en banke, nuwe geute en vassies, skoonmaak en verf
van alle buitemure, verf van dak, aanbring van noodsaaklike
lugreeling gate onderdeur die mure, alle pleisterwerk aan
buitemure waar nodig …
18 Julie 1969 Die kerkgebou word as ‘n nasionale
gedenkwaardigheid per proklamasie in die Staatskoerant verklaar.
Staatskoerant No 2047. Proklamering van ‘n gedenkwaardigheid:
“kragtens die bevoegdheid my verleen by artikel 10 (1) van die
wet op nasionale gedenkwaardighede 1969 (Wet 28 van 1969),
proklameer ek Cornelius Petrus Mulder, waarnemende minister van
Nasionale Opvoeding (Kultuursake) hierby die Nederduitse
Gereformeerde Kerk te Philippolis, en die terrein waarop dit
geleë is, as ‘n gedenkwaardigheid”.
|
Karaktertrekke van die NG kerkgebou
Suile voor die kerkgebou ter nagedagtenis aan Ds Colin Fraser,
Dr Tobie Muller, Ds CJ van Niekerk, Ds DNJ du Toit en Ds Gideon
Engelbrecht. Dié leraars is hier tydens hul dienstyd oorlede.
Met die uitsondering van Ds Engelbrecht, is al hierdie leraars
in die Philippolis Begraafplaas ter ruste gelê.
Patrone op die pleisterwerk van die kerkgebou. ‘n Unieke kenmerk
aan die Philippolis-argitektuur is die sg. “Wurmstreeprustiek-patroon”.
Dié patroon is nie altyd so duidelik in daglig sigbaar nie, maar
in die aand, wanneer die kolligte aan is, kan dié patrone baie
mooi gesien word.
Loodglasventers met geelhoutrame in die gotiese styl.
Die Philippolisbybel. In die ingangsportaal is daar ‘n grootdruk
Afrikaanse Bybel met ‘n unieke Philippolis-motief daarop gedruk.
Binne-in is ‘n inskripsie wat die simboliek van die motief
verduidelik. Die kunstenaar was Rina Coetzee.
Tafeltjie in die voorportaal van die kerk met ‘n geskilderde
Philippolis-straattoneel met die kerk sentraal. Kunstenaar
Hanlie Kotze het die straattoneel geskilder. Opvallend is dat
die Pastorie ook in dié toneel verskyn, maar wel met ‘n rooidak,
omdat die groen te oordadig sou wees.
Brinley & Vorster Orrel met sy meer as 1000 pype
Meganiese kerkhorlosie in diens sedert 1887
Preekstoel van olienhout
Oorspronklike kerkbanke op die gallerye. Dié banke is
oorspronklike Oregonhout wat met ‘n tuisgemaakte vernis bedek
is, omdat Oregonhout destyds as ‘n minderwaardige hout beskou
is.
Konsistorie met ‘n volledige foto-gallery van leraars wat hier
diens gedoen het.
|