JOBHUIS - PHILIPPOLIS BO-KAROO
VOLKSBLAD 21 Desember 2010




Jobhuis Philippolis

U kan Dr Retha du Plessis skakel
by: 083 451 6973
vir meer besonderhede.
retha@webgrafika.co.za retha@webgrafika.co.za
You can phone Dr Retha du Plessis
083 451 6973 for more information

Dié galery geen Jobstrooster
2010-12-21 21:28

Elretha Britz

   
 
In ’n kunsgalery wat pas in ’n gerestoureerde huis op Philippolis geopen het, hang ’n permanente uitstalling van 25 kontemporêre skilderye. Dié werke kan bloot as kuns in olie op doek beskou word, of as genesing vir trauma. Al 25 werke beeld teksverse uit die Bybelboeke Klaagliedere en Job uit. “Dit is geen sierlike kuns nie. Erge ellende word uitgebeeld met onder meer regte kettings en toue wat op die skilderye aangebring is, maar wanneer mense met depressie of trauma die hele versameling tot by die laaste uitbeelding van hoop en nuwe lewe assimileer, word hulle gewoonlik met innerlike vrede gevul.” Só vertel Rina Coetzee, die skilder en eienaar van die kunsgalery met die gepaste naam Jobhuis op die hoek van Tobie Muller- en Bergstraat. ’n Tweede vertrek huisves kommersiële kunswerke, waaronder Coetzee se Bo-Karoo-, Stoelstories- en Kom binne-reeks. Daar is ook keramiekkuns deur Jenny Street, handsakke en kussings van Julie Lategan op Trompsburg, en kunstige voorwerpe wat uit herwonne materiaal geskep is. “Soos Job nuwe lewe gekry het toe hy uit die as opgestaan het, so kry ashoop-vondste soos ’n fietswiel, petrolkannetjies en ’n motorvergasser hier ook nuwe lewe in die vorm van byvoorbeeld lampe,” sê Coetzee. Sy is ’n grafiese kunstenaar, wat talle kinderboeke geïllustreer en kunswerk vir die TV-kinderreekse soos Pumpkin Patch, Mina Moo en Kideo gelewer het. Coetzee het tot nou ook grafiese werk vir die Universiteit van die Vrystaat gedoen, maar “dis nou klaar. Van nou af gaan ek heeltyds skilder,” sê sy. Die galery is oop van 09:00 tot 17:00. Alternatiewe besoektye kan gereël word deur Coetzee te bel by 083-451-6974 of 051-773-0157. - Volksblad
 


 
           
TUISBLAD · PHILIPPOLIS · JOBHUIS · NG KERK · TE DOENE · KAART · AKKOMMODASIE · EIENDOMME