NG Kerk

Matteus 6: 33
"Beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee."

Tuisblad
Philippolis
NG Kerk
Akkommodasie
Ondernemings
Te doene
Ligging

Besigting van gebou slegs per afspraak kontak: mev Jeanne Kalp by 051 773 0014 of 083 271 6979


Karaktertrekke van die NG kerkgebou

Suile voor die kerkgebou ter nagedagtenis aan Ds Colin Fraser, Dr Tobie Muller, Ds CJ van Niekerk, Ds DNJ du Toit en Ds Gideon Engelbrecht. Dié leraars is hier tydens hul dienstyd oorlede. Met die uitsondering van Ds Engelbrecht, is al hierdie leraars in die Philippolis Begraafplaas ter ruste gelê.

Patrone op die pleisterwerk van die kerkgebou. ‘n Unieke kenmerk aan die Philippolis-argitektuur is die sg. “Wurmstreeprustiek-patroon”. Dié patroon is nie altyd so duidelik in daglig sigbaar nie, maar in die aand, wanneer die kolligte aan is, kan dié patrone baie mooi gesien word.

Loodglasventers met geelhoutrame in die gotiese styl.

Die Philippolisbybel. In die ingangsportaal is daar ‘n grootdruk Afrikaanse Bybel met ‘n unieke Philippolis-motief daarop gedruk. Binne-in is ‘n inskripsie wat die simboliek van die motief verduidelik. Die kunstenaar was Rina Coetzee.

Tafeltjie in die voorportaal van die kerk met ‘n geskilderde Philippolis-straattoneel met die kerk sentraal. Kunstenaar Hanlie Kotze het die straattoneel geskilder. Opvallend is dat die Pastorie ook in dié toneel verskyn, maar wel met ‘n rooidak, omdat die groen te oordadig sou wees.

Brinley & Vorster Orrel met sy meer as 1000 pype

Meganiese kerkhorlosie in diens sedert 1887

Preekstoel van olienhout

Oorspronklike kerkbanke op die gallerye. Dié banke is oorspronklike Oregonhout wat met ‘n tuisgemaakte vernis bedek is, omdat Oregonhout destyds as ‘n minderwaardige hout beskou is.

Konsistorie met ‘n volledige foto-gallery van leraars wat hier diens gedoen het.

Mylpale in ons gemeentegeskiedenis

Die Nederduitse Gereformeerde Kerk Philippolis
22 Oktober 1862 Die Ring van Transgariep vergader in Kaapstad. Op dié Ringsvergadering word die stigting van die gemeente Philippolis goedgekeur.

Belangrike projek

Restourasie van kerkgebou.
Die kerk se mure aan die buitekant benodig dringende restourasiewerk. Dit behels die skoonmaak van die mure deur dit totaal en al af te skuur en weer te verf.
Die totale koste van die projek beloop R250,000.

Indien u belangstel om 'n donasie te maak om dit vir ons moontlik te maak om die kerk te restoureer kan u die donasie oorbetaal aan die volgende rekening.

Rekeningnaam:
Herstelfonds

Bank: ENB Philippolis

Tipe rekening: Tjek

Tak no: 23-04-32

Rekno: 62104010202

BAIE DANKIE

 

Leraars van die
NG-gemeente
Philippolis

Ds Colin Fraser
1863 - 1907
44 jaar (langste dienstyd)

Ds SJ Perold 1907 – 1916  
9 jaar

Dr Tobie Muller 1916 – 1918
2 jaar (oorlede)

Ds PSZ Coetzee 1920 – 1925
5 jaar

Ds CJ van Niekerk 1926 –1947
21 jaar (oorlede)

Ds DJ Redelinghuys 1948 – 1961
13 jaar

Ds Jannie van Heerden
1962 – 1966
4 jaar

Ds DNJ du Toit 1967 – 1968
18 maande (oorlede)

Dr Ben du Toit 1969 – 1972
3 jaar

Ds Phil Olivier 1973 – 1976
3 jaar

Ds Tienie Strydom 1977 – 1981
4 jaar

Ds Awie van Staden 1981 – 1983
2 jaar

Ds Philip Botha 1984 – 1988
4 jaar

Ds Gideon Engelbrecht
1988 – 1992
4 jaar (oorlede)

Ds Ken Lemkuhl 1993 – 1994
2 jaar

Ds Bertie Haasbroek
1995 - 2003

Ds Ferdinand Ball
2003-2006

Dr Carin van Schalkwyk
2006 -

 


9 Maart 1863 Die eerste kerkraadsvergadering van die NG Gemeente Philippolis vind onder leiding van ds AA Louw van Fauresmith plaas. Tydens dié vergadering word ds Colin Fraser as eerste leraar na Philippolis beroep.

8 Mei 1869 Tot op hede is die eredienste in die ou bestaande Griekwa-kerkie gehou. Na besinning, besluit die kerkraad om ‘n doelmatige kerkgebou op te rig op die presiese plek waar die ou Griekwa-kerkie gestaan het. Die hoeksteen van die nuwe kerkgebou, in die plek van die ou Griekwakerk word deur ds Fraser gelê. R Wocke is die boumeester van dié nuwe kerkgebou. Die preekstoel, wat vandag nog in gebruik is, is deur mnr ET Schmidt van olienhout gemaak. Dié hout is deur twee ouderlinge in die berge naby Fauresmith gaan uitsoek. Die orrel en die klok is deur ‘n ene Mynhartd geïnstalleer. Mej Rörich van Fauresmith het ‘n sierlike kanselkleed geskenk.

24 Februarie 1871 Die nuwe kerkgebou, wat vir ongeveer £ 6000 gebou is, word ingewy. Die gekleurde glasvensters het eers later gekom. In 1877 het ds Fraser Skotland besoek, en dié glas gekoop as ‘n geskenk aan die gemeente. Die kerkraad het egter besluit om al die koste daaraan verbonde aan die leraar terug te betaal. Mettertyd is sekere veranderinge aan die kerkgebou aangebring. So bv kon baie van die vensters nie oopmaak nie. Die hitte van die somermaande het die kerkraad laat besluit om ‘n skrynwerker aan te stel, sodat minstens nog 8 vensters kon oopmaak. In 1879 het ds Fraser ook tapyte vir die paadjies in die kerk bestel.

27 September 1895 Die kerkgebou word te klein, en word vergroot met die aanbou van die twee syvleuels. Die vergrote kerkgebou word ingewy, sonder dat daar enige skuld op die bouwerk uitstaande is. Hierdie keer was die boumeester ‘n ene Hawkins. Nou het die kerkgebou sitplek aan ‘n 1000 mense verleen, terwyl daar voorheen net plek vir 600 was. Die kerktoring is met ongeveer 20 voet verleng om by die nuwe aanbouings te pas.

Tydens die Anglo-Boereoorlog het Engelse soldate die kerk beset, en is die kerktoring as ‘n uitkyktoring benut. Tydens dié besetting is die kerkorrel onherstelbaar beskadig.

25 Januarie 1907 ‘n Nuwe kerkorrel wat die beskadigde kerkorrel na die oorlog moes vervang, word plegtig ingewy. Dié orrel, ‘n Brinley en Foster van Sheffield, het £950 gekos. PK de Villiers van Worcester, het met die keuse van die orrel gehelp.

14 Julie 1961 Die NG Kerkraad Philippolis besluit om die kerkgebou op te knap. Mnr HN le Roux, argitek van Bloemfontein, se voorlegging, met ‘n koste-implikasie van R 8000, word goedgekeur. Dié herstelprogram het die volgende voorstelle bevat: nuwe vloere, en banke, nuwe geute en vassies, skoonmaak en verf van alle buitemure, verf van dak, aanbring van noodsaaklike lugreeling gate onderdeur die mure, alle pleisterwerk aan buitemure waar nodig …

18 Julie 1969 Die kerkgebou word as ‘n nasionale gedenkwaardigheid per proklamasie in die Staatskoerant verklaar. Staatskoerant No 2047. Proklamering van ‘n gedenkwaardigheid: “kragtens die bevoegdheid my verleen by artikel 10 (1) van die wet op nasionale gedenkwaardighede 1969 (Wet 28 van 1969), proklameer ek Cornelius Petrus Mulder, waarnemende minister van Nasionale Opvoeding (Kultuursake) hierby die Nederduitse Gereformeerde Kerk te Philippolis, en die terrein waarop dit geleë is, as ‘n gedenkwaardigheid”.

 
 
Bronne
Bosch, JA 1962. Eeufeesgedenkboek van die NG Gemeente Philippolis. Philippolis: NG Kerkraad
Botha, PR (red) 1987. Feesalbum van die Ned Geref Gemeente Philippolis 1862 – 1987. Philippolis: NG Kerk
Raath, AWG 1997. Vesting in die Transgariep. Philippolis: NG Gemeente
Van der Merwe, GA 1984. Colin McKenzie Fraser 1837-1911. UOVS: MA-verhandeling

 
 


Tuisblad | Philippolis | NG Kerk | Akkommodasie | Ondernemings | Te doene | Ligging
Property for Sale | Home | Philippolis | Dutch Reformed Church | Accommodation | Businesses | Things to do | Location map